FILMHERMENEUTIEK: DIE HUWELIK, INTIMITEIT, SEKSUALITEIT EN DIE CHRISTUSNARRATIEF deur Anna Elizabeth (Dreyer) Kruger Promotor: Prof dr Andries G van Aarde Voorgelê ter vervulling van die vereistes vir die graad Philosophiae Doctor (PhD) in die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria (Nuwe- Testamentiese Wetenskap) APRIL 2014 1 VOORWOORD By hierdie geleentheid wil ek my dank en waardering betuig aan almal wat bygedra het tot die afronding van my teologiese studies. In die eerste instansie wil ek my promotor, prof. dr. Andries G. van Aarde bedank vir sy goeie raad by die keuse van die onderwerp en sy geïnspireerde leiding en helder insig, wat meegewerk het tot die totstandkoming van hierdie proefskrif. Dit was ʼn eer om in die tyd van kerklike onrus ʼn promotor te hê wat internasionale bekendheid verwerf het op grond van sy deeglike bestudering van Bybelse tekste, gepaardgaande met sy empatie vir mense wat gemarginaliseer word. Aan al die professore aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria, wat meegewerk het aan my teologiese skoling en die basis gelê het vir my verdere studie, my opregte dank. Ek wil ook my waardering uitspreek teenoor die Nederduitsch Hervormde gemeente Rustenburg-Suid vir hulle begrip tydens my studietydperk. Hulle geduld het dit moontlik gemaak dat ek my studie kon voltooi terwyl ek steeds voltyds predikant van die gemeente kon wees. Hulle ondersteuning, goeie wense en gebede was van onskatbare waarde. Teenoor my familie vir hulle onderskraging en aanmoediging om my studies te voltooi, is ek innig dankbaar. My pa, prof. Theuns Dreyer, se raad en nugtere insig was onmisbaar. Ek wil veral ook my man vir sy liefde en bystand bedank. Hy het agter my gestaan en met kalmte my telkens oortuig om te volhard in my studies. Ten slotte aan God die dank vir krag, inspirasie en onverdiende genade. 2 INHOUDSOPGAWE 1. PROBLEEMSTELLING 1.1 Agtergrond 6 1.1.1 Die huwelik in ʼn krisis 6 1.1.2 Die postmoderne mens en spiritualiteit 6 1.1.2.1 Die sosiale en politieke dimensie van gelowig wees 19 1.1.2.2 Multikulturele verskeidenheid 19 1.1.2.3 Ekumene 20 1.1.2.4 Intergodsdienstige debat 20 1.1.2.5 Postkonfessionele geloof 20 1.1.3 Film as hermeneutiese gebeure 25 1.2 Bestaande navorsing en navorsingsleemtes 1.2.1 Oorsig 31 1.2.2 Leemtes 36 1.3 Metode van ondersoek 42 1.4 Plan van ondersoek 43 2. PUBLIEKE TEOLOGIE EN POSTTEÏSME 2.1 Publiek, teologie en publieke teologie 45 2.2 Postteïsme en publieke teologie 57 2.3 Bevindings 64 3. HISTORIESE OORSIG VAN DIE HUWELIK, INTIMITEIT EN SEKSUALITEIT 3.1 Huwelik en seksuele verhoudings as kultuurverskynsels 66 3.2 Westers-Mediterreense (Grieks-Romeinse) en Oosters-Mediterreense (Israelitiese) invloede 73 3.3 Bevindings 83 4. BYBELSE MODELLE VAN DIE HUWELIK 4.1 Nuwe-Testamentiese perspektiewe 88 4.2 Bevindings 105 4.3 Modelle van die huwelik 108 4.3.1 ʼn Verbond 108 4.3.2 “Vleeslike” eenwording 116 4.3.3 ’n Twyfelagtige noodsaaklikheid 121 4.3.4 ’n Wêreldse vergunning 123 4.3.5 Passievolle wedersydse liefde 126 4.4 Bevindings 129 5. FILMHERMENEUTIEK 5.1 Teoretiese opmerkings 133 5.2 Bevindings 151 3 6. DIE PRAKTYK VAN FILMHERMENEUTIEK 6.1 Oriënterende perspektiewe 153 6.2 Roepman 6.2.1 Agtergrond en ruimte 154 6.2.2 Verhaalstof en karakterontleding 156 6.2.3 Verteller 160 6.2.4 Tema 161 6.2.5 Die Christusnarratief 165 6.2.5.1 Genre en vertellersperspektief 165 6.2.5.2 Konteks en agtergrond 170 6.2.5.3 Karakters 171 6.2.5.4 Storielyn en plot 173 6.2.5.5 Hermeneutiek van kongenialiteit 183 6.3 As it is in heaven 6.3.1 Agtergrond en ruimte 183 6.3.2 Verhaalstof en karakterontleding 188 6.3.3 Verteller 192 6.3.4 Tema 192 6.3.5 Die Christusnarratief 198 6.3.5.1 Genre en vertellersperspektief 198 6.3.5.2 Konteks en agtergrond 201 6.3.5.3 Karakters 205 6.3.5.4 Storielyn en plot 208 6.3.5.5 Hermeneutiek van kongenialiteit 225 6.4 Les misérables 6.4.1 Agtergrond en ruimte 227 6.4.2 Verhaalstof en karakterontleding 233 6.4.3 Verteller 242 6.4.4 Tema 243 6.4.5 Die Christusnarratief 245 6.4.5.1 Genre en vertellersperspektief 246 6.4.5.2 Konteks en agtergrond 247 6.4.5.3 Karakters 247 6.4.5.4 Storielyn en plot 251 6.4.5.5 Hermeneutiek van kongenialiteit 262 6.5 Bevindings 263 7. ‘N BIFOKALE VERSMELTING VAN VERSTAANSHORISONNE 7.1 Samevatting 267 7.2 Uitkomste 269 7.2.1 Vorm en inhoud 269 7.2.2 Liefde en gelykheid 272 7.2.3 Vergifnis en genade 275 7.2.4 Seksuele intimiteit 277 7.3 Epiloog 280 7.3.1 Probleemoplossing 280 7.3.2 Vul van navorsingsleemte 281 7.3.3 Toepassing van hermeneutiese metode 281 7.3.4 Persoonlike bydrae 282 4 8. LITERATUURVERWYSINGS 283 9. SUMMARY 323 10. KEYWORDS 326 5 1. PROBLEEMSTELLING 1.1 Agtergrond 1.1.1 Die huwelik in ʼn krisis Binne ʼn postmoderne era dring die besef al meer en meer deur dat die huwelik, soos wat ons dit tradisioneel verstaan het, onder geweldige druk verkeer. Die kerk word wêreldwyd gekonfronteer met die werklikheid van hoë egskeidingsyfers, huwelikskonflik, saamwoon, vrye seks en in die jongste tyd, die wettiging van homoseksuele huwelike en ander burgerlike verbintenisse. Kerke probeer om met die tradisionele teologiese verstaan van die huwelik die probleem op te los, maar slaag nie daarin om die konvensionele huweliksvorm af te dwing nie. Black (2004:97) noem skokkende syfers van onlangse statistieke: Die egskeidingsyfer in die VSA is tussen 29 persent en 50 persent vir eerste huwelike, terwyl 61 persent tot 76 persent van alle tweede huwelike op die rotse loop. Adrian Thatcher (1999:9) sê in sy boek, Marriage after modernity, Christian marriage in post modern times, dat die inkongruensie tussen die menslike ervaring van die huwelik en die "teologie van die huwelik" deur die eeue heen problematies was. Rosemary Haughton (1987:149) noem dit: “a theology of marriage shattered by experience.” Ek glo dat die krisis in die huwelik te make het met die verandering in die denkraamwerk van die hedendaagse postmoderne mens wat nie meer al die geykte antwoorde van die kerk oor die huwelik as normatief kan aanvaar nie. Hierdie inkongruensie bring veral spanning by mense wat steeds ʼn tuiste vind binne die geïnstitusionaliseerde kerk, maar reeds die spiritualiteit van die postmoderniteit aangeneem het. 1.1.2 Die postmoderne mens en spiritualiteit Ek sien my self as ʼn postmoderne mens wat steeds ruimte vind binne die geïnstitusionaliseerde kerk, maar nie meer met al die geykte antwoorde van 6 die kerk kan saamstem nie. Dit is noodsaaklik dat ek dus van die begin af poog om my eie vooronderstellings, geskiedenis en tradisie, wat op my lewe en denke ’n invloed het, op die tafel te plaas, omdat dit bewustelik of onbewustelik ’n invloed op my denke en teologiese staanplek uitoefen. Vir ʼn postmoderne denker is dit uit die staanspoor nodig om jou eie subjektiwiteit in die studie aan te dui en nie daarop te roem dat jy totaal onbetrokke en objektief teenoor die onderwerp onder bespreking staan nie. Nadat ek my eie unieke teologiese staanplek verduidelik het, sal ek voortgaan om meer algemeen te verduidelik wat ek onder postmoderniteit en verwante sake verstaan en hoe dit verband hou met die krisis in die huwelik. As lidmaat en predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (sedert 2005) is ek gebore, getoë en geskool binne die raamwerk van die Reformatoriese Teologie. Met hierdie uitgangspunt besef ek dadelik dat ek die begrip Reformatoriese Teologie vanuit die oorspronklike wortels van die Hervorming opnuut sal moet ontdek en interpreteer omdat Reformatoriese Teologie in baie gevalle verwring is tot ’n sjibbolet wat gebaseer is op funda- mentalisme en verword het tot fondamentalisme. Die Hervormde Kerk is en bly ʼn geïnstitusionaliseerde Kerk wat by mense binne en buite die kerk ʼn sekere beeld oproep wanneer hulle die naam hoor. Ek is ook predikant in ’n gemeente van die Hervormde kerk wat beteken dat my teologiebeoefening moet uitmond in my prediking en pastoraat om mense te help om in hierdie postmoderne en postsekulêre wêreld nuwe sin en betekenis te vind. Tegelykertyd besef ek ook dat gemeentelede gevorm is deur ’n bepaalde kerklike tradisie en instituut wat aan hulle sekuriteit en vastigheid bied (wat veral in die moderne era neerslag gevind het). Navorsing (Armour & Browning 1995:5-17) het aangetoon dat verskillende denksisteme vir ’n sisteemsensitiewe leierskap vra, wat rekening hou met die verskillende denksisteme en ’n klimaat van akkommodering en toleransie skep. ’n Emansipatoriese hermeneutiek is binne die realiteit van diversiteit die mees geskikte benadering. 7 Ek is ook ’n vrou wat as gelowige nie anders kan as om vanuit ’n vroulike perspektief te reflekteer oor huwelik, intimiteit en seksualiteit nie. Tradisionele stereotipering van die vrou se rol in die huwelik, asook bepaalde weerstand in die kerk ten opsigte van vroue as predikante het ook ’n invloed op my spiritualiteit en beskouing van die geïnstitusionaliseerde kerk. Ek is ook ’n getroude vrou (sedert 2005) wat binne die praktyk van ’n huweliksverhouding my rol as predikant, huisvrou, lewensmaat en “sexual partner” in die huidige konteks moet herdefinieer op so ’n wyse dat dit lei tot ’n sinvolle intieme verhouding. As 33 jarige, blanke vrou, is ek ook deel van ’n nuwe generasie wat sedert die staatkundige verandering van 1994 op alle vlakke van die gemeenskapslewe myself moes posisioneer in ’n poging om die kerk en Christelike geloof in my omgang met mense nuwe betekenis te gee. In my pastorale verhoudings met gemeentelede en ook mense buite die kerklike gemeenskap word ek dikwels gekonfronteer met individue wat worstel met die kerk se tradisionele modernistiese en selfs premodernistiese sienings oor huwelik, intieme verhoudings en seksualiteit. Ek besef al meer dat die kerk nie meer daarin slaag om met ons geykte vorme mense te help om outentiek in God se teenwoordigheid te lewe nie. Hoe moeilik die uitdaging ook al mag wees, kan die kerk nie daarvoor terugdeins nie en is hierdie navorsing ’n beskeie poging om aan die diskoers deel te neem. Teen die agtergrond van my eie persoonlike vooronderstellings en geskiedenis, wil ek probeer om vanuit ’n hermeneutiek van suspisie na die onderstaande fasette te kyk omdat dit ʼn invloed op die verstaan van tekste het: • Postmoderniteit • Postsekulêre paradigma • Reformatoriese tradisie • Postfondamentalisme 8 Volgens my is die redes vir die krisis wat daar in die huwelik van vandag ontstaan het, juis die veranderinge wat die postmoderne era en postsekularisasie teweeggebring het. Ek stem saam met Van Aarde (1995:13) dat die verskuiwing na ʼn postmoderne era nie as makroparadigmaties gesien moet word nie, maar dat dit ʼn verskuiwing van middelmatige aard is omdat die postmoderne paradigma nie ʼn totale afskeid van die moderne paradigma is nie, maar liewer selektief afskeid wil neem van sekere sake binne die modernisme. Dit beteken egter nie dat dit nie geweldige implikasies vir die kerk en teologie inhou nie. ʼn Paradigma kan gedefinieer word as die totaliteit van denke, persepsies en waardes van wetenskaplikes wat lei tot ʼn spesifieke visie op die werklikheid (kyk onder andere Mouton 1987:57-79; Mouton & Marais 1988:144-151). In hierdie werklikheid is daar sekere probleme waarvoor daar dan modeloplossings gekonstrueer word. ʼn Paradigma begin skuif wanneer die aanvaarbare oplossings van sekere probleme nie meer algemene erkenning geniet nie. Alhoewel paradigmaverskuiwings stadig plaasvind en gewoonlik ineenvloei, beleef mense hierdie veranderings as revolusionêr. Dit is nie anders met die postmoderne paradigma nie. Waar postmoderniteit verword in postmodernisme veronderstel dit wel ʼn radikale makroparadigmatiese skuif omdat die “-isme” die verabsolutering van die postmoderne era is. Postmodernisme sal dus beteken dat die dialektiek totaal agtergelaat word, die bydra van die Reformasie geminag word en dat alle positiewe en negatiewe kenmerke van die moderne era verwerp word. Dit is nie die geval met die middelmatige verskuiwing na postmoderniteit nie. Die postmoderne paradigma is liewer ʼn paradoksale afskeid van sekere sake binne die moderne era, terwyl dit steeds daarvan afhanklik wil bly. Byvoorbeeld, rasionaliteit word in die postmoderne era nie vervang met die affektiewe nie, maar die belangrikheid van gevoel en handeling naas rasionele denke, word beklemtoon. Dus word die praktiese toepassing van wetenskaplike kennis tot voordeel van ander belangriker as in die moderne era, waar dit gegaan het oor die verkryging van kennis vir intellektuele beheer. Die dialektiek word ook nie ontken nie, maar gekontekstualiseer en dus prakties gemaak. In die postmoderniteit is daar meer deernis met ander, meer ruimte vir diversiteit, 9 meer toleransie as wat in die moderne era voorgekom het (waar dominansie die belangrikste doelwit was), sonder dat daar opgegaan word in relativisme en ʼn sogenaamde “social gospel”. Die belangrikheid van die mens in ʼn netwerk van verhoudings word beklemtoon, teenoor die moderniteit wat die outonome individu so oorbeklemtoon het dat dit die invloed van relasies begin misken het, sonder dat die individu in die postmoderne era in die groep sy uniekheid verloor. Tog is dit so dat onsekerheid ʼn kenmerk van die postmoderne era is. Sekerhede waaraan mense in die vorige era vasgehou het, word bevraagteken en dit veroorsaak angs. Daarom probeer baie teoloë, predikante en lidmate hierdie verandering ontken of die verloop daarvan blokkeer. Die ortodoksie is so ʼn reaksie in die teologie wat eintlik juis die reformatoriese teologie verlaat en byna ʼn herlewing is van die premoderne era. Die vraag wat baie konserwatiewe mense binne die geïnstitusionaliseerde kerk vra is: waarom verander? Die kerk moet verander om relevant en byderwets te bly. Die postmoderne era is nie ʼn verbygaande modegier nie. Die kerk sal deeglik daarvan bewus moet word en daarby moet aanpas sodat daar altyd ʼn ooreenkoms sal wees tussen die werklikhede waarmee die kerk daagliks te doen kry en die optredes en uitsprake van die kerk, anders het die kerk onverstaanbaar geword. ʼn Kritiese ondersoek van die self, die kerk en die samelewing is voortdurend nodig. Dit sal enersyds ʼn kritieklose “anything goes”-mentaliteit verhoed en andersyds vooronderstellings en aannames ontbloot, wat die kerk en individue kan help om te “beweeg”: Daar is ʼn verskil om vas te staan en om onbeweeglik vas te steek. Mense wat lewe, beweeg. Mense wat werklik in die teenwoordigheid van God lewe, staan vas in die geloof, maar beweeg ook. ʼn Reformatoriese kerk wat nie oop is vir hervorming nie... het die radikale verandering wat die sestiende-eeuse kerkhervorming en die daaropvolgende dialekties-teologiese paradigma gebring het, óf nie eksistensieel meegemaak nie, óf dit meegemaak, maar weer agtergelaat. (Van Aarde 1995:51) 10
Description: